As daar nou een ding is wat Tert goed kan doen, dan is dit organiseer.
Sover ek weet was daar net een ding wat hy gehelp organiseer het wat geflop het; en dit was die skoonheidskompetisie in die Langkloof. Maar dit was rêrig nie sy skuld nie. Genuine. Sien, die Langkloof het ʼn jaarlikse Appelfees, en soos dit met die klas goed gaan, moet daar ook nou ʼn skoonheidstitel aan een of ander mooi meisie toegeken word.
Tert en sy span het georganiseer dat dit so bars. Oorsese reise en blinknuwe karre en modelkontrakte was maar net ʼn paar van die aanloklike pryse wat op die spel was, maar hulle kon nie een enkele inskrywing kry nie. Die rede? Geen meisie wou as Mejuffrou Langkloof, bekendheid verwerf nie.
Hulle het later probeer met Mejuffrou Appel of iets dergeliks, maar die meisies wou maar net nie byt nie. Die hele ding het net daar platgeval. Hulle het toe maar ʼn Meneer Sterkman kompetisie gehou maar dit was nie dieselfde nie. ʼn Mejuffrou een of ander ding sou baie beter wees.
Maar alle geval. Laat ek by my eintlike storie uitkom. Met die laaste kerkbasaar by Tert en Lien se gemeente, word die ou toe mos as voorsitter van die basaarkomitee aangewys. Was hy nou in sy skik dáároor! Nee kyk, die stof het behoorlik gestaan soos Tert die leisels gevat en die verskillende subkomitees op ʼn galoppie gekry het. Nader na die basaar toe het hy hulle op ʼn stewige draffie gehad, en so twee weke voor die basaar op ʼn July Handicap pas.
Die reklamekomitee het wyd en syd reklame gemaak. Baniere en plakkate is oral en teen elke lamppaal vas gesit. Strooibiljette is in hulle duisende uitgedeel. Die vrouediens was aan die beplan vir pannekoeke en poedings en handwerk en nog ʼn hele kaboedel ander goed.
Die groente manne het hulle beplanning in orde gekry, en die vleiskomitee het gewerk dat dit bars om al die vleis te verwerk. Elke man, vrou en kind was aan die beweeg. Almal vat en hulle vat raak.
“Hoe meer mense betrokke is, hoe meer mense gaan basaar toe kom, en hoe beter is die kans op sukses. Dit help nie dat net ʼn paar die werk doen en die res staan en kyk nie. Al hierdie vooraf werkery is beter as enige reklame truuk,” beweer Tert, die meester organiseerder.
Tert en die res van die bestuur het ook gesorg vir ander aktiwiteite soos armdruk vir die vrouens, koek versier vir die mans, skyfskiet, trompoppies, bulletjie uitdaag wedstryd teen ander kerke en gemeentes en ʼn pretpark vir die kinders.
“’n Kind wat beweeg, is ʼn kind wat eet, en hoe meer kinders, hoe beter,” aldus Tert.
Natuurlik is daar vir elke nuwe aktiwiteit ook ʼn nuwe subkomitee aangewys. Die subkomitees organiseer en rapporteer terug na die bestuur toe en die stofwolk word al hoe digter.
Volgens dominee Pieter het hy lanklaas soveel geesdrif onder die Schoemansdallers vir ʼn basaar gesien.
Eindelik breek die groot dag aan.
ʼn Wintersdag.
ʼn Pragtige dag!
Wolkloos en windstil.
ʼn Heerlike dag!
Van heinde en verre kom die mense aan. Gemeentelede en besoekers daag in groot getalle op. Dominee Pieter open die verrigtinge met skriflesing en gebed en nie lank nie, en daar heers ʼn karnaval atmosfeer op die hele terrein. Die musiek speel oor die luidsprekers en die pannekoeksusters bars om voor te bly. Agter hulle staan die twintig liter dromme opgestapel – vol deeg. Die braaivleis manne swoeg agter die roosters. Eenkant staan die groot driebeenpotte met pap. Net langsaan knie die manne deeg vir nog potbrood.
Iemand moes die pastorie se hekkie oop vergeet het, want dominee Pieter se Basset genaamd Sleepsel, is al onder die mense se voete. “Julle moet hierdie hond hier wegkry. Iemand gaan oor die ding val. Hy is omtrent ʼn myl lank en netnou kry iemand seer,” order Tert. Maar wat, almal se werk is niemand se werk nie, en die mense hou basaar dat dit klap. Intussen geniet Sleepsel die vryheid van die terrein.
Tert is aan die stuur van sake. Hy werk deur die program soos net hy dit kan doen. Hy moedig aan, dreig as dit nodig is en sweep die mense op. Die bulletjies speel asof hulle lewe daarvan afhang. Die trompoppies doen hulle passies voor oud en jonk en word met dawerende applous beloon. Sleepsel bly al tussen die bulletjies in voeter. Te bly oor al die aktiwiteit.
“Julle moet daai hond hier wegkry . . . ” brom Tert weer, maar niemand hoor hom nie.
Later klim Tert op ʼn kleinerige verhogie wat tussen ʼn klompie spesiale items staan. Dis tyd vir die veiling. Tert dreig en soebat en vlei en eindelik het hy ʼn redelike skare rondom hom vergader. En waar verbaas my ou vriend my. Hy trek daar los soos ʼn wafferse afslaer en die veiling is aan die gang.
Heel eerste is ʼn dubbellaag sjokoladekoek wat deur een van die susters gebak is. Dis ʼn allemintige koek. Op ʼn warm dag kan mens maklik in sy skaduwee gaan sit. Ek weet nie waar die vrou die oond gekry het nie, maar daai koek is beslis nie in die gewone kombuis oondjie gebak nie. Tert kry op die einde amper sewe honderd en vyftig rand vir die koek. Die koper skenk die koek aan die Sondagskool en voor jy kon sê “Simson” was daar net krummels oor.
Toe is dit ʼn handgemaakte eetkamer stel van Kiaat wat onder die hamer kom. Tert vat voor en hy val weg.
Een . . . duisendvyfhonderdrandvrinnevirhierdiepragtigestel . . . een duisendvyfhonderd rand! Wiegeemy tweeduisendrand virhierdieerfstuk. Tweeduisendrandsoekek . . . dankieoommarius . . . wiesêtweevyf!! Tweevyfwilekhêtweevyfwilekhêekhettweevyfwiesêdrieduisendrandte. Komnoukomnoumoenieskaamweesnie . . . wie gee my drie! Ekhetdrie dankiemytanniewiegeemydrievyf,” en so gaan Tert aan.
Uiteindelik kom hulle by seweduisend vyfhonderd rand aan. “Seweduisendvyfhonderdrandheteksewevyfhetekwiegeemyagt! Komnou vrinnewiegeemyagtjullemoetdaaidekselsehondhierwegkrywiegeemyagt!! Niemandviragtduisendnie niemandnie . . . virdie eerstemaaaaal, Virdie tweedemaaaaal . . . ” en “DWA!!” slaan Tert met sy blokhamer, wat vandag as afslaers hamer moet dien, voor hom op die tafel.
“Dis joune oom Tjaard. Baie geluk. Dis ʼn pragtige stuk handewerk daardie. Kom gee gou jou naam en besonderhede vir Flippie hier by my. Voertsek Sleepsel!”
Toe ʼn klein dogtertjie feitlik onmiddellik daarna oor Sleepsel val, is Tert se geduld ook net mooi op. “Bring daai hond hier,” order Tert en ʼn hele paar gewillige hande dra die Basset tot by die verhogie. Sleepsel kom agter dat daar moeilikheid in die lug is en hy trek sy stert tussen sy bene in.
“Tweehonderdrandwilekvirhierdieopregtebassethêvrinne tweehonderd rand! Daarissommernogjarreseleweinhierdiehonnelyfoorkomnoukomnou wiegeemytweehonderd randte! Dankie Klasieonsisaandiegang!! Tweehonderdrandhetektweehonderdrandhetektweehonderdrandhetekwiesê tweevyftig!! Tweevyftigtweevyftig dankietanniewiegeemydrie . . . .”
Iewers moes dominee Pieter lont geruik het, want skielik staan hy langs die verhogie.
“Viervyftighetekviervyftighetekwiegeemyvyfhonderd.”
Die Dominee wil nog kapsie maak toe die leierouderling langs hom praat.
“Broer Tert,” sê die oom ouderling besadig, “ek gee jou sewehonderd rand vir daardie hond.”
Die Dominee word so vaal om die kiewe. “Maar Oom . . . ”
Toe is die duiwel los. Tert praat dat die spoeg so spat. “Sewehonderdrandhetek sewehonderdhetek . . . .”
“Sewevyftig!!” val die dominee ook in.
Die hele basaar het nou tot stilstand gekom en almal verkyk hulle aan die skouspel by die verhogie.
“Dankiedomineesewevyftighetekwiewilgaanviragthonderdrandte!! AgthonderdwilekhêagthonderdhetekdankieoomFanie”.
“Agtvyftig!!” roep die dominee.
Mevrou Dominee het haar intussen by haar man aangesluit. “Pappa, Sleepsel kan onmoontlik vanaand in ʼn vreemde huis gaan slaap!” en sy pink ʼn traan weg.
Dit maak die dominee verbete, maar roekeloos. “Negehonderd!” roep die dominee sonder dat iemand teen hom gebie het.
“Disdiegeesdomineemoeniebekommerdweesniedomineeonssaljou’n voorskotopjousalarisgeewiegeemynegevyftig!”
En so gaan hulle aan. Op tweeduisend vierhonderd en vyftig rand word die bod op die koster toegeslaan.
“Broers, broers,” sê Dominee Pieter kop onderstebo. Hy is skoon verwese.
Mevrou Dominee snuit haar neus. “Ag Pappa” sê sy aangedaan. “Dis ons Sleepsel daardie,” en pink nog ʼn traan weg.
Die oom koster tree vorentoe. “Vat jou hond en gaan bêre hom nou Dominee. Hy pla ons nou al die heeldag.”
Dominee Pieter laat hom ook nie tweemaal nooi nie. So vinnig as wat sy bene hom kan dra is hy met Sleepsel oor die pad terug pastorie toe.
So hou hulle basaar tot laat middag. Kort-kort is dominee Pieter pastorie toe om seker te maak dat Sleepsel nog agter slot en grendel is.
Nadat die basaar verby en alles opgeruim en almal weg is klim Tert en Lien ook in hulle kar en ry huis toe. Toe hulle by die pastorie verby ry, sien Tert dat die hekkie met ʼn stuk draad vasgewoel is. Dominee Pieter staan tang-in-die-hand wag by die hekkie dat Sleepsel asseblief tog net nie weer uitkom nie. Hy wys vir Tert ʼn kastige kwaai vinger.
Tert lag. Hy is ʼn moeë, maar tevrede man.
________________________________________________
Hoe Tjert Tert geword het en so en goeters – Herman du Plessis
‘n Lekker lees, lekker lag boek. R120.00 per boek.
Bestel nou – dis op die Littera se Agalah aanlyn boekery beskikbaar. Koop sommer ‘n paar eksta om as handige geskenke in die kas te bere.
As jy vier boeke op die Littera webwerf koop kry jy een gratis.