22 April – Bloemfontein en die Volk Bid Saam


Ek gee hiermee my indrukke van die afgelope It’s Time gebedsbyeenkoms op Bloemfontein vir wat dit werd is…

Maandag 24 April 2017 – Nadat ons gisteraand vanaf die It’sTime gebedsbyeenkoms op Bloemfontein teruggekom het, het ek vir die eerste keer probeer om woorde aan my ervaring te koppel – dít nadat Wilma vir my sê dat Melanie Strydom gevra het: “Maar hoe was dit regtig? As ek vir mense vra hoe dit was, stuur almal net foto’s.”

Ek wil graag hiermee by die halfleë “wonderliks” en “amazings” probeer verbykom en sê wat my ervaring was.

Ek het so ’n maand voor It’s Time besluit om Bloemfontein toe te gaan. My plan was om met die Avanza te ry en hom met betaalde reisgenote vol te maak sodat dit sommer my kostes ook kon dek. (Dit het amper gewerk). Ek het van die begin af dit duidelik gemaak waarmee ons ry en hoe ons gaan bly – albei redelik primitiewe opsies – sodat die saamganers nie later kan sê hulle het nie geweet nie(!)

Die Maandag voor ons sou ry, het ek nog een plek in die kar oorgehad. Ek stop daardie dag voor die Poskantoor en met die uitklimslag sê ek: “Here, ek het nog een plek in die kar oor. Stuur asb. vir ons nog een persoon.” Toe ek terug van die Poskantoor af by die voetoorgang oorstap, ry daar ’n ou in ’n bakkie by my verby, rem, stoot terug: “Hi, is dit jy wat na Angus se storie toe gaan? Jy het seker nie meer plek nie, nè?” Dis Gideon du Plessis, een van my oudskoliere wat in die kerk gehoor het ek ry, maar hy het my nommer verloor. Gideon was uiteindelik ’n wonderlike reisgenoot en ‘n groot hulp met ons kampery.

Oor die byeenkoms
Ja, dit was groot. En daar was baie mense. Aansprake van 1.7 miljoen inskrywings op iTickets. (“Neem maar met knippie sout,” het ek gedink.) Sommige ouens het gespog oor die grootste gebedsbyeenkoms in die wêreld asof hulle almal persoonlik genooi en aangery het. Maar hopelik het die meeste mense vere gevoel vir die reusagtige area, massiewe luidsprekers, duisende mense en die emosionele aansprake. Die Here was net so teenwoordig op Wilde-Als as op Worcester en Stutterheim. Maar daar was iets besonders aan die massas wat gekom het om saam met ons te aanbid. Ja, ons kon ook by die huis om die eetkamertafel gebid het, maar die feit dat derduisende mense moeite gedoen het om daar te wees, sê iets van die mense se erns en dit het ’n ander soort besondersheid aan die geleentheid verleen. En ons het gesien dat die “oorblyfsel” groter is as wat ons gedink het.

Die mense
’n Mengsel van alle rasse en reuke. Hoofsaaklik wit en Afrikaans, maar ook baie swartmense, Indiërs en bruinmense. Harmonie en opgewondenheid. Oorringdraers, nerds, verwaandes, oumas. Rokers, boere, werkers. Opregtes, onopregtes en enges. Mammas en kinders. Yuppies en Pappies. Almal was daar. En toe ons saam sing, het geen stem ’n tatoeëermerk of ’n oorring gehad nie.

Die gees
Daar was ’n besadigde gees te midde van die opwinding. Die fokus was Jesus Christus. Geen uitspattige fieterjasies nie. Mooi liedere waarvan ’n mens die woorde kon hoor en bedoel. Een van die sangleiers het dit treffend verwoord: “Make it personal”. En dit wás “personal” te midde van die grootsheid.

“Make it personal” – miskien die één noodsaaklike bestanddeel in die groter resep van die Suid-Afrikaanse Christen-bredie. En ek het agter my sonbril en onder my hoed gehuil van dankbaarheid oor my seuns wat hier saam met my kon wees, en my skoondogter en my vriende met hulle lewenslange toewyding aan die Here en aan my… en nog baie ander goed wat net die Here van weet. Make it personal…

Oom Angus
Vir my was hy ’n mengsel van ’n Engelse boer, ’n Bybelse profeet, ’n Herlewingsprediker à la Spurgeon en Finney, ’n Cowboy met ’n liefde vir Jesus, ’n Liefdevolle oupa en ’n Gewone ou. Uitverkoop aan die Here. Jare se stap saam met Hom. Gebrei deur sukkel en twyfel en glo. ’n Boer wat op ’n bonatuurlike manier geleer het dat God bestaan en dat ’n mens Hom blindelings kan vertrou.

Sy geestelike gawe is dié van evangelis, moet ons onthou. Hy is nie in die eerste plek ’n leraar nie. Sommiges sien hom dalk wel as ’n bietjie van ‘n pastor, maar hy is in die eerste plek ’n evangelis. En goeie evangeliste is wonderlike ouens sonder brieke. Ek weet nie of hy die gawe van genesing het nie. (Dalk is hy uit voeling met sy gawes as hy aansprake maak dat mense in hulle stoele genees gaan word.)

Ons moet geestelik volwasse wees. Angus kan ook foute maak. Ons dien nie vir Angus Buchan nie; ons dien die Here. Sit jou voor so baie mense neer om te preek en kyk of jy elke komma reg plaas.

En verder: Angus is in sy persoonlikheid ’n haastige “go-getter”. Vinnig van humeur en daad toe hy jonk was. ‘n Regte instorm-Petrus-figuur. Niks “timid” aan hom nie. ’n “Bundu-basher” met ’n Gr 10 agter sy naam. Moenie van hom verwag om die waarheid so genuanseerd weer te gee soos jy met jou universiteitsgraad nie. Maar hierdie persoonlikheidseienskappe het hom gehelp in sy blindelingse vertroue en geloof in die Here. As hy ’n introvert met ingroeitoonnaels was, het hy dalk nou nog gewonder of hy aartappels of rape moet plant. Maar hy storm, daarom is hy.

En ons moet dankbaar wees dat die Here so ’n ou in ons tyd hier in SA neergesit het. En ons moet dankbaar wees dat hy vanaf Zambië kom en nie van Oudsthoorn of Delareyville af nie, want dan het meer as die helfte van die Suid-Afrikaners wat ’n appeltjie met die Boere te skil het, hom gewantrou.

Die “preek”
In herlewingsituasies was daar nog altyd klem op heiligheid. Sondebesef en reinheid is deel van die pakkie. Baie van hierdie elemente was daar by die Bloemfontein-saamtrek. Ons gaan soms ligtelik met die Here om. Hy is Heilig en sy Gees is ’n Heilige Gees. “Heilig” beteken “afgesonder vir God”. As ons vir God afgesonder is, moet dit tog wys in hoe ons stap en waar ons trap. Dit moet hoorbaar wees in ons taal en sigbaar op straat. Die populêre siening van sousie-christenskap is “anything goes”. Ons weet almal dis ‘n vlak en verdunde storie. Maar as die buurman se seun saam met sy meisie slaap, “hush-hush” ons maar en kyk links verby. Dis mos hulle privaat sake. En so ontstaan die “almal-doen-dit-kultuur”. En dis wind-af met die samelewing se waardes. Nou kom Angus en hy pluk die leisels styf. Dis ’n evangelis se werk. En die mense reageer. Die intensiteit van ons reaksie is dikwels direk eweredig aan die afstand wat ons van God se norm is. Dis is heel moontlik tyd dat ons ’n slag die onlekker goed hoor.

En Angus laat die mense bid en en masse hulle sondes bely. (Dis mos nie reg nie. Wie weet of hulle dit bedoel? En wie weet hoe lank dit gaan hou? Dis die probleem wat ons mos met hierdie massapredikers het. Regte “hit and runners”. Daar is geen opvolg nie. Die ouens kom by hulle gemeentes aan en “val terug”.)
Man, “make it personal”. Jy is nie vir ander se keuses verantwoordelik nie. As die ou langs jou dit “personal” gemaak het, sal hy ook “fine” wees.

En Angus sê die wind wat opgekom het, is die Here se Gees wat ons besoek. Waarheid of tjol? Ek weet nie. Daar is baie mense wat krag uit daardie gebeure put. Ek is bly dit het hulle geseën. Ons sal eendag in die hemel weet. Maar ek het geleer om die vleis te eet en die bene uit te spoeg. Of die wind van die Here was of nie, gaan geen verskil aan my redding maak nie. Dit is nie ’n kernelement van die evangelie nie. Ja, ons moet versigtig wees met goeters wat mense kan verwar. Dit gee die kwaadwilliges net skietgoed. Het Angus hier ’n ongewenste grens oorgesteek? Ek weet nie. Maar ek dien mos nie vir Angus nie…

Die afloop
En ons het opgestaan en huis toe gegaan. Die dorings aan die bos by ons kampplek was nog net so skerp soos die oggend toe ons daar weg is. En daar was ’n ongeluk op die pad toe die mense uitry. As ons gehoop het op hemel op aarde, sal ons teleurgesteld wees. As ons gehoop het op die bonatuurlike verandering in ons regering en die opgradering van rommelstatus na A1 – sorrie, dit het nie gebeur nie.

Maar as ons gehoop het op ’n nuwe toewyding in baie harte, is ons moontlik in die kol. En nuwe ywer in ons lewens met Jesus – beslis. Daar is sekerlik groter eenheid en meer “goodwill” onder almal wat daar was. Daar het sekerlik mense tot bekering gekom en die tyd sal leer hoeveel van die mense wat daar was, ’n groot impak op hulle tuisdorpe gaan hê. Die effek van 22 April 2017 sal beslis nog lank en wyd in SA sigbaar wees. En in my hart? Groter bewondering vir die God wat my gered het. Groter toewyding en beslis baie meer waagmoed ter wille van die evangelie.

En dit was aand en dit was môre en ons het teruggery. En my vriend Dolf het aangebied om my sleepwa te sleep om my kar te spaar. Liefde en omgee sigbaar op straat. Sonder dat ek gevra het… En Brian het op Colesberg die R495.00 vir die petrol betaal. Christenskap sigbaar op straat. Sonder dat ek gevra het…

Op Colesberg is ek poot-uit. Brian reël en Dolf maak vir my slaapplek agter in sy bakkie. En ek slaap in Hi Luxury. Sonder dat ek gevra het…

En heeltyd hoop ek dat geen spietkop ons aftrek nie – veral nie op Laingsburg waar hulle so senuweeagtig is nie – want ek het in Bloemfontein gesien dat ek vergeet het om die Ventertjie se nuwe lisensieskyf aan te sit (en ek was so seker ek het dit gedoen!). En ons daal af in Laingsburg in… en met die uitry: wraggies ’n tannie in uniform met die hand omhoog. En ek sweet agter in die Hilux. Ek wil nie Brian se R495.00 sommer so verloor nie… en ek bid soos Broer Andrew destyds toe hy Bybels agter die Ystergordyn ingesmokkel het: “Here, u het blinde oë laat sien: maak nou asb. siende oë blind…”

En die tannie vat ’n ewigheid om Dolf se lisensie te inspekteer…. ek maak my oë toe… Ek wil nie sien waar sy oral kyk nie… En sy loop vermoedelik om die voertuig. En sy sien nie die weerkaatsers wat verlede jaar se Karasburgklippe een stukkend en een weg geslaan het nie. En sy sien nie die lisensieskyf wat sê Februarie 2017 nie. En ek sal nooit vergeet hoe voel ’n Hilux wat wegtrek buite Laingsburg nie… Toeval of nie? Was dit die Here of nie? Ons sal in die hemel eers weet… Maar nou is daar eers werk. Ons is nie in die hemel nie en ons moenie ons koppe breek oor goeters wat ons eers daar gaan uitvind nie…

Ons aanbid nie vir Angus Buchan nie. Ons aanbid die lewende God. Maar Angus het al baie mense gehelp om groter geloof te hê, om meer erns met die Here te maak, om groter waagmoed te hê, om die Here meer openlik te bely. En daarvoor eer ons die Here en ons respekteer Angus vir sy getrouheid. En ons storm in!

Erkenning: Fotos gevind op Facebook – nabetragting geskryf deur Johann Jordaan.