‘n Mens kan ‘n speld hoor val in hof GC in die Noord-Gautengse Hooggeregshof. Dis 09:30, Maandag 2 November 2009. “Ek het lank stilgebly. Ek is veroordeel, gekruisig en vermorsel deur die media en die publiek. Ek is uitgeskel vir alles wat sleg is. By teepartytjies en om braaivleisvure is oor my geskinder en gelag. Op internetblogs het duisende mense anoniem met my gespot en my veroordeel. Ek het niks gese nie. Ek kon nie. Ek moes doodstil bly. Ek moes my kans afwag. Nou is my kans. My enigste kans… My aktetas bevat 485 bewysstukke in Saak CC 206 van 2009: die Staat vs CJ Els…”
Jurie Els het huis toe gekom as beskuldigde in een van die mees opspraakwekkende sekssake in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis. So begin Jurie Els, bekende sanger en eggenoot van die voormalige hoogspringkampioen, Hestrie Cloete, se verhaal van sy private lewe en sy ervaring as sanger in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – wat uiteindelik sou uitloop op ‘n aanklag van onsedelike aanranding van sy destyds minderjarige protege: die jong sanger Robbie Klay. Die titel bied ‘n voelvlug oor Els se lewe en loopbaan waarin omtrent elke naam in die Suid-Afrikaanse ligtemusiek-wereld ‘n rol speel.
Hoogs interessante leesstof vir almal met ‘n belangstelling in die opwinding en die teleurstellings; die vriendskappe en die verraad in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf. Die titel is goed geskryf en gestruktureer – met boaan elke hoofstuk die datums (vanaf 1963-2010) waarteen die meevoerende drama afspeel. Dit sorg vir heelwat nostalgiese herinneringe aan bekende maar dalk vergete radioprogamme, rolprente, TV-reekse, tydskrifte ,”plate”, CD’s, kunstenaars en kompetisies deur die jare soos Els se vertellings dit voor die leser se oog laat verbyskuif…
Die titel van Els se boek, Ver Van Vrede, is ‘n gepaste en ironiese keuse. Aan die een kant is hy en sy gesin wat deesdae in Nieu-Seeland woon, letterlik “ver van Vrede”, die Vrystaatse dorpie waar Jurie grootgeword het en waarheen hy telkens sou terugkeer. Die ongure hofsaak wat teen hom aanhangig gemaak is en die tol wat dit finansieel, emosioneel en loopbaangewys van hom geeis het, wek die indruk dat hy aan die einde van die verhaal inderdaad “ver van vrede” sou wees. Tog eindig die boek met die woorde: “Ek is ver van Vrede. Tog het ek vrede gekry. Volkome Vrede.”
‘n Bonus tot die boek – wat veral die duisende belangstellendes in Els se opspraakwekkende verhoor van 2009 sal interesseer – is die uitgebreide woordelikse uittreksels uit die hofstranskripsies van die saak wat agter in Ver Van Vrede opgeneem is.
Reviews
There are no reviews yet.